

Biddulphsberg is 16,5km van Senekal geleë op die N5 (hoofroete) in die rigting van Bethlehem. Senekal is in 1877 gestig en lê in die pragtige Oos Vrystaat, op die hoofroete tussen Bloemfontein en Durban. Die dorp is vernoem na Kommandant FP Senekal en is gestig op die plaas De Put. Die manjifieke Nederduitsch Gereformeerde Moederkerk rus in die middel van die dorp, en word "beskerm" deur fassinerende prehistoriese versteende boomstamme wat in dié omgewing ontdek is. Senekal, met sy benydenswaardige klimaat, atmosfeerryke landskap en majestieuse ster belaaide nagte, is slegs 25km geleë van die bekende Willem Pretorius Natuur Reservaat.
Jan Cilliers, die Voortrekkerpionier, broer van die bekende Sarel Cilliers, was die eerste eienaar van die plaas Biddulphsberg. Gedurende 1950 is die oorskot van Jan Cilliers, sy vrou en seun deur sy nageslag opgegrawe en herbegrawe in die familieplaas.
Jacob Stephanus Erasmus, die voorvader van die huidige eienaar van Biddulphsberg, het die plaas Biddulphsberg op 27 Desember 1873 gekoop.